“Vyfjariges wat leer lees, was 30 jaar gelede ongehoord. Kinders moes toe speel, klim, klouter, verf en teken. Soos wat Finse kinders vandag steeds doen.” – Christien Neser in Help! My kind is anders

In Suid-Afrika begin die leesproses reeds in graad R. Maar sit dit nie onnodige druk op ons kinders nie? As hulle so jonk moet begin met formele leer, steel ons nie van hulle speeltyd nie? Speel maak juis deel uit van ’n kind se ontwikkeling. Die skrywer en spraakterapeut, Christien Neser, skryf in haar boek, Help! My kind is anders, dat kinders in Finland eers op sewe jaar aan formele lees blootgestel word. En tog word Finland se opvoedingstelsel as een van die beste ter wêreld beskou. Is ons hier in Suid-Afrika en ook ander lande dan op ’n dwaalspoor? Afrikaans.com het by Christien gaan kers opsteek.
Dit lyk asof die Finne die resep vir leer amper vervolmaak het en die aanvang van formele leer tot later uitstel. Kan jy meer hieroor sê?
CN: In die woorde van ’n Finse kleuterskoolhoof, Tiina Marjoniemi: “Ons (die Finse skoolsisteem) glo dat kinders onder sewe nog nie skoolgereed is nie. Hulle het tyd nodig om te speel en om fisiek aktief te wees. Dis ’n tyd vir kreatiwiteit.” Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe is die laaste kans wat hulle kry om vry te speel en om hul kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. In Brittanje begin formele lees reeds op vier. In Finland eers op sewe. En tog lyk dit nie of die Finse kinders enigsins daardeur teruggehou word nie. Inteendeel, met die 2016 PIRLS-studie, waarin die graad 4’s van 50 lande vir geletterdheid getoets is, het Finland in die top 5 presteer, saam met lande soos Ierland en Rusland. Die Britte was in 8e posisie, wat aandui dat die drie jaar wat hulle vroeër met formele onderrig begin, nie ‘n beduidende verskil maak nie. Suid-Afrika was ongelukkig heel laaste.
Hoekom is speel, veral op voorskoolse vlak, so belangrik?
CN: Dit is ’n vraag wat ’n hele dik boek as antwoord verg. Maar kortliks: Kinders leer deur te beweeg. Die WGO (Wêreld- Gesondheidsorganisasie) se riglyne sê dat kinders onder vyf nie langer as ’n uur per dag in ’n stoeltjie moet wees nie, nie meer as 60 minute skermtyd moet hê nie en vir ten minste 180 minute aktiewe beweging en spel moet hê in ’n 24 uur periode. Daarvan moet ten minste 60 minute kardiovaskulêre oefening wees, dus hardloop, spring en buitespel. Slaaptyd moet ten minste 8 – 10 uur per 24 uur beloop. Arbeidsterapeute en fisio’s kan nie genoeg predik dat kinders moet speel nie. Buitespel leer hulle waag. Vaardighede soos balans, koördinasie, beplanning, probleemoplossing, groot- en fyn-motoriese ontwikkeling, asook sensoriese ontwikkeling vind so speel-speel plaas. Eers as hulle kernspiere (core muscle) en hul balans en propriosepsie voldoende ontwikkel het, kan ons verwag dat hulle by ‘n tafeltjie moet sit en met papier en pen aktiwiteite moet slaag. As ‘n kind nog nie gereed is vir die formele leerproses nie, dus nog nie genoeg gespeel het nie, lei dit dikwels tot angs. Hierdie outjies kry die goed nie reg soos hul maatjies nie. Hulle kan nie so mooi verf of so lank stilsit nie. En skielik is die leerproses in sy peetjie in. Want ‘n angstige kind se brein word oorspoel met adrenalien, wat weer die amigdala stimuleer (die oerbrein) en dadelik ’n veg- of vlugreaksie aan die gang sit. Die angstige outjie kan veg (opstandige gedrag, weiering, woedebuie) of vlug (onttrekking, huil, skaamte), maar van formele leer gaan daar nie veel kom nie. Te veel kinders wat té vroeg formeel begin leer, word gespanne onderpresteerders, wat dikwels eers in hul tienerjare die gaping oorbrug.

Wat is die verskil tussen gestruktureerde spel en ongestruktureerde spel?
CN: Gestruktureerde spel is dit wat deur ’n volwassene gelei word. Daar is apparaat en daar is voorskrifte. Reëls moet gevolg word sodat ’n doel bereik kan word. Dit kan aktiwiteite wees soos ’n legkaart wat saam gebou word, ’n model wat saam aanmekaar gesit word, ’n hindernisbaan of selfs ’n sportsoort, soos sokker of netbal. Spesifieke vaardighede word so gebou.
Ongestruktureerde spel is sonder ’n spesifieke doel en is suiwer kreatief en vir die lekkerte. Dink aan boomklim, fietsry, popspeel, karretjies, huis-huis. Dit stimuleer kreatiewe denke, om ‘buite die boks’ te dink.
By ’n goeie kleuterskool sorg die program dat kinders aan beide soorte spel blootgestel word.
Met die tegnologie wat al hoe meer deel raak van die leeromgewing en natuurlik sy voordele ook het, is ons kinders van kleins af blootgestel aan selfone, tablette, rekenaars en die TV. Skermtyd oorheers dus dikwels hul lewens. Het jy riglyne vir ouers oor hoe om dit beter te bestuur?
CN: Met die WGO se riglyn van slegs 1 uur per dag skermtyd vir voorskoolse kinders, sal meeste ouers sukkel. Skermtyd sluit ma se slimfoon, die televisie, die rekenaar en rekenaarspeletjies in. Oor naweke kan ouers die reëls aanpas, veral as hulle saam met die kinders ’n lekker fliek of interessante programme op TV wil kyk. Om saam met ’n kind TV te kyk, het groot waarde. Mens kan dan nog dae ná die tyd oor die storie gesels. Dis hoe woordeskat en logiese redenasie gebou word. Morele waardes word ook gebou as mens saam gesels oor die reg en die verkeerd in die storie.
Wat van rekenaarspeletjies/ Xbox? Ouers moet saamspeel. Dit gee hulle ’n kykie in hul kind se geheime speletjie-wêreld. En ’n dom ma of pa moet mooi verduidelik word hoe dinge werk: dis uitstekend vir ’n kind se taalontwikkeling om die reëls aan hulle te verduidelik.
As skermtyd ingeperk word, moet ouers regstaan met iets om daardie gaping te vul. Saam lees, saam buite speel, saam bak en brou, legkaart bou of kaart speel is alles heerlik en opvoedkundig, al kos dit ’n ouer se duurste kommoditeit. Tyd.
Maak ’n gelukkige kind groot
Moedig jou kinders aan om buite te speel. Klouter, swaai, met ’n bal speel, modderkoekies bak, trouens enige iets wat die kind se verbeelding vrye teuels gee, is goed vir jou kind se ontwikkeling. Speel bied kinders die geleentheid om hulle omgewing en die wêreld op ’n kreatiewe manier te verken. Terselfdertyd ontwikkel aktiewe spel gesonde en aktiewe liggame en leer kinders vaardighede aan wat bydra tot hulle selfvertroue.

Christien Neser is ’n spraakterapeut en skrywer van Johannesburg. Nagraadse kwalifikasies sluit ’n Honneurs in Frans en ’n MA in Toegepaste Linguistiek in. Sy skryf veral jeugverhale, soos die Elle-reeks vir LAPA (11 titels). Sy het ’n besondere belangstelling in outisme. Amper Einstein (2013) en Absoluut Einstein (2020) (NB) is jeugverhale met outisme as tema.
Pienk is nie vir sissies nie (2018) is ook deur NB uitgegee. In April 2020 verskyn die niefiksie boek, Help! My kind is anders (LAPA). Dit is ’n gids vir ouers oor die waarde van terapie en vroeë ingryping by kinders met ontwikkelingsagterstande en talle ander kwessies. Gehoorverlies, spraakontwikkeling, lees, ADHD, outisme en angs is enkele van die kwessies wat deur kundiges bespreek word.

“Die boek is geïnspireer deur die kinders wat vir ’n korter of langer tydperk deel van my lewe was of steeds is. Met die boek probeer ek hulde bring aan die briljante en toegewyde kollegas wie se pad myne met die jare gekruis het. Dit is ook opgedra aan elke onderwyser wat met toewyding deel is van kinders se wenverhale.” – Christien Neser
Met die lees van die boek, is wat my eerste opgeval het, die lekker skryfstyl. Hier is uiteindelik ’n praktiese gids, in geselstrant, maar kundig geskryf sodat ouers en ook onderwysers antwoorde op hulle vrae kan kry. Die boek is in drie dele opgedeel en bespreek verskillende Wat as …?-vrae wat dan met behulp van kundiges beantwoord word. Daar is ook 11 persoonlike verhale van “hoop, bemoediging en dapperheid” – persoonlike ervarings waaruit ander ouers kan leer om sodoende hulle moontlike bekommernisse oor hul eie kinders te besweer. Die boek gee wenke oor wat ouers kan doen om hierdie “anderster” kinders te help en ook wie hulle kan raadpleeg om hulle by te staan. Onderwysers met “anderster” kinders in die klas kan ook baie leer uit die boek sodat hulle ingelig kan wees en die kinders daadwerklik kan help. Vroeë intervensie is baie belangrik en ’n ingeligte onderwyser, veral op preprimêre vlak, kan ’n baie belangrike rol hierin speel. Trouens, onderwysers kan ’n groot verskil aan ’n kind se lewe maak. Soms verg dit net ’n paar aanpassings in die klas. Ook terapeute kan uit die boek leer. “Dis in die kind se belang dat ons (terapeute) met mekaar skakel en mekaar se kennis deel. ’n Multidissiplinêre benadering is altyd die eerste prys.”
Christien skryf:
“Niks is onmoontlik waar liefde en onvoorwaardelike aanvaarding is nie.” En lees ’n mens die spesiale verhale oor hierdie superspesiale kinders, besef ’n mens net weer dat toewyding en kennis, maar veral liefde en begrip, die wenresep is om “die ster in jou anderster kind te ontdek”.
Afrikaans.com beveel die boek sterk aan.
Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
ISBN
9780799396300
Die boek is ook as e-boek beskikbaar. Klik hier.
Klik hier vir ’n uittreksel uit die boek.
Kyk ook:
Groot Ontbyt-onderhoud met Christien Neser oor haar boek, Help! My kind is anders. Klik hier.
Groot Ontbyt-onderhoud met Timothy Hamman en hoe hy met sy “andersheid” saamleef. Timothy se verhaal (hy het ernstige verworwe bilaterale gehoorverlies) word in Christien Neser se boek, Help! My kind is anders, vertel. Klik hier.